Tuesday, February 3, 2009

Desember 2008 Kaap Vakansie


Ek kom nou eers daarby uit om die vakansie foto's te laai en 'n kort opsommingkie te maak van ons vakansie:
  • Begin met 'n aand of wat in Bloemfontein. Natuurlik wil die twee manne net met Oupa se 125cc ry!
  • Op pad na Sutherland, om na die teleskope en naghemel te gaan kyk, ry ons oor Beaufort-Wes. Net anderkant die dorpie lees die Jetta 43.5 grade! Ons het darem hier 'n ou KFC'tjie ook afgelsuk.
  • Verby Richmond, die jongste nuwe boeke dorpie in die wereld, koop ons eers 'n ou handvatsel, wat ons nog nie weet waar om te gebruik nie.
  • Sutherland was beslis die moeite werd, en die gastehuis wat ons in tuis gegaan het, is absoluut die moeite werd. Nogals sjerrie wat staan en wag as mens aankom. Die sterre kyk was baie lekker, en die geslote konstellasies is beslis iets om te sien deur 'n ordentlike teleskoop. Die oggend toer sluit die hervestigde Pretoria-Sterrewag teleskoop in, sowel as die nuwe SALT - beslis die moeite werd om te sien. Franko het natuurlik sy reputasie gestand gedoen deur soveel moontlik vra te vra in 'n tyd korter as die big-bang.
  • Oppad na Piketberg het ons eers by Matjiesfontein aangegaan en by die Lord Milner 'n regte publunch saam met die laaties gehad. 
  • Op Ceres gaan nie veel aan nie, en die dorp was heeltemal te besig na die stilte van Sutherland en Matjiesfontein.
  • Piketberg toe! daar het ons by die Truters aan huis gegaan vir 'n paar aande. Hulle het ons na Velddrif gery vir 'n besondere aandete by Sunset Seafood en Steak. Ons was ook op Piket-bo-berg, waar ek summier 'n 18 hektaar plasie wou koop. Perfek vir olywe en laventel!. 'n Boot-rit op die Bergrivier en Sondagmiddagete op die stoep by 'n privaat oord net buite die dorp het die ou kuiertjie beslis die moeite werd gemaak. Ons het ook die moewie Crash saam met hulle gekyk.
  • Van daar na die plaas, Sewefontein vir 'n paar aande oor Kersfees. Die plaas is besonders, en die eienaars baie gasvry. Philip en (wat is haar naam nou weer)  het uit hul pad gegaan om ons welkom te laat voel. Ek het selfs 'n 95 pinotage gekry omdat daar skynbaar 'n paar teels missing was. Met die aflaai kon ek en ou Jan ook nie ons ogies van die jong dogter afhou nie....te pragtig. Hulle het ons vertel van droe appelkose maak - ons het gaan kyk ook, hoe mens rooibos groei en die tee maak, en van die Boesman tekeninge wat ek en die laaities gaan kyk het. Die huis was lekker groot en omdat dit koeler in die berg is, kon ek elke aand 'n ou kaggel vuurtjie met die lekker houtjies maak wat hulle voorsien het. Ons het elke oggend brekvis op die stoep onder die druiwe prieel gedoen - soos konings! Enigste sleg ding is dat my betroubare Canon PowerShot A80 hier finaal ingekonk het - lyk asof die hoofsensor die gees gegee het.
  • Ons moes op Citrusdal by die Spar gaan proviand kry vir Kersdag - hier gaan werklik niks aan nie.
  • Ons was vir Kersdag Elandsbaai toe waar die wind ons heeltemal weggewaai het - dit was egter steeds lekker om dit te sien. Ons moes op Eendekuil stop vir aanwysings. 'n klein plekkie met niks.... Het darem heelwat skulpe opgetel en rondgehol saam met die kinders op die groot strand. Oppad terug het die berge te mooi gelyk in die laat middagson. Die son het ook telkens weer opgekom tot Franko se verbasing...
  • 'n Padstal tussen Piketberg en Citrusdal net soos mens in die berg inry is Kardoesie - mens moet hier stop....
  • Van die plaas na beskawing, maar eers oor Riebeek-kasteel. Hier wil ek en Bella beslis weer tyd kom spandeer. Die oorspronklike Garden-Blue is hier, en 'n klein arkadetjie van winkeltjies wat te mooi is. Die winkels was ongelukkig alles toe, met al die produkte steeds oop-en-bloot op die stoepe uitgestal.....
  • By die Oliviers in Kaapstad oorgebly vir 'n paar aande. Hier het ons gaan swem tussen die pikkewyne op die betaalstrand by Simonsytad (Boulders). Dit was werklik iets besonders om die gediertetjies te sien waggel en swem tussen al die strandlywe! Ons was ook kasteel toe, wat hierdie slag baie interessant was, want met my vorige besoek was die museum deel toe vir opknappings. Vergekyk baie goed met ander internasionale museums - eintlik beter, want dit is nie oor-gekommersialiseerd nie. Ons het ook cool-runnings gaan doen teen 'n heuwel af, nes in die fliek, net makliker! ;-) En natuurlik darem een wynplasie gaan doen, waar ek en ou Guillaume eerder die skinkertjie wou proe as die wyn!.... O, en ons het 1 uur en 5 minute vir vis en tjips gewag by Mariner's Wharf op Houtbaai - tot Retha se verbasing dat Gui so geduldig was....;-)
  • Jip, en dan vroegoggend terug Sodom en Gemorra toe, met 'n kort oorslaap op Bloemies
En daar is die ou vakansietjie poer in sy moer - maar darem lekker, besig en rustig. Foto's van die hele vakansie is in die album, met enetjie hier net vir lusmaak.