Monday, June 25, 2018

Herman Se Menlyn Tjiaanies

INGREDIENTS

    • 1 . Halwe ui of 1 klein uitjie
    • 2 . Paar groot knoffeltone
    • 3 . 1 of 2 klein Soetrissies - die peusel soort, nie die groot bell-peppers nie.
    • 4 . So paar lang-stam broccolis (halwe klein Woolworths pakkie)
    • 5 . 250g knopie sampioene (die groot wittes)
    • 6 . 250g gerookte rugspek
    • 7 . 4 hoenderborste - so 400-600g is genoeg
    • 8 . 1 blik (omtrent 400g) pynappelstukke in ligte stroop (hou stroop eenkant - moet dit nie drink of weggooi nie)
    • 9 . 100-150ml water
    • 10 . 1-2 teelepels Mazeina
    • 11 . 1 eetlepel appelasyn
    • 12 . 2-3 eetlepels onverwerkte heuning
    • 13 . Worcestershiresous
    • 14 . Lae-sout sojasous
    • 15 . Grap-saad olie (grape seed olie)
    • 16 . Tobasco sous

INSTRUCTIONS

    1. Braai 'n halwe ui, grof gesnipper, in bietjie grap-saad-olie (grape seed oil). In 'n Wok.
    2. Braai so paar groot knoffeltone, grof gekap, saam met die ui.
    3. Verwyder as dit lekker lyk. Hou eenkant.
    4. Braai 'n soet-rissie, in ringetjies gesny. As mooi lyk, hou saam met die uie en knoffel eenkant.
    5. Braai die lang-stam broccoli vinnig tot mooi lyk. Hou saam met die uie, knoffel, soetrissie alles saam eenkant.
    6. Braai een pakkie gewone knopie sampioene, grof gesny in nog so bietjie grap-saad olie.
    7. As die sampioene se watertjies weg gebraai het, en hulle mooi bruin is, hou dan alles eenkant, saam, die hele boksemdiaas.
    8. Braai 'n blik pynappelstukke (hou die stroop eenkant) totdat hulle so kleurtjie hier-en-daar wys.
    9. Van die soetrissie af, as dit eers gaar is, kan mens die groente alles saam braai van die begin af, of alles individueel.
    10. Sny 4 hoenderborste en 'n pakkie spek in growwe stukke. Braai saam redelik vinnig tot lekker gaar en 'n mooi kleur het.
    11. Voeg so eetlepel of drie se Worcestershiresous by die hoender terwyl dit braai.
    12. Voeg so eetlepel of drie se lae-sout sojasous by die hoender terwyl dit braai.
    13. Voeg so paar druppel Tobasco sous by die hoender terwyl dit braai (na smaak of helemal sonder dit).
    14. As die hoender en spek begin gesels, en mooi lyk daarby, gooi dan alles saam terug in die wok.
    15. Maak so 100-150ml water, 1-2 teelepels Mazeina en 1 eetlepel appelasyn aan. Gebruik sommer die pynappelstroop, voeg net so bietjie water by as nodig.
    16. Voeg so 2-3 eetlepels onverwerkte heuning by die mengsel in die wok.
    17. As die heuning weg gesmelt het, roer alles goed en gooi dan die asyn-mazeine water by.
    18. Kook todat die sousie mooi verkleur en dik word.
    19. Bedien saam met flied lice of noodles (Woolworths se medium wholewheat noodles is die lekkerste).