Tuesday, July 20, 2010

Gastronomiese Nirvana - Moskonfyt

Ek en Isabel het toevallig nou die dag 'n botteltjie moskonfyt, nogals van 'n Le Roux plaas af, ontvang as geskenkie. Niks ongewoons hieraan nie, behalwe dat dit ons eerste kennismaking is met regte moskonfyt. In elk geval, aan die einde van een van ons etes, kan nie meer onthou wat ons die weeksaand gebrou het nie, kry ons baie lus vir 'n lekker poeding. O, ja, dit was varkie, met gebakte appels en een of ander groente. Weereens niks ongewoons hieraan nie, behalwe dat, as gevolg van 'n klein kommunikasie foutjie, is die gebakte appels eers teen die einde van die ete gereed. Dit was gewone, blosende Royal Gala appeltjies van Woolies, met elk so klein bietjie rosyntjies bo-op gestrooi, niks esktra suiker of molasse nie. Vir een of ander rede kry ek toe die blink idee om die appels met 'n klein skeppie Madagascan Vanilla roomys, ook van Woolies, te geniet. Amper op dieselfde oomblik besef ek en Isabel dat die moskonfyt mos die beste stropie sou maak wat mens oor die appels, rosyne en roomys kan drup. Ek vermoed as mens een of ander beskuiterige iets bysit, sal hierdie kombinasie sjefs en kokke van regoor die wereld beindruk. Probeer gerus, dis mos nou pure poeding!