Thursday, July 30, 2009

Ons eie Woody!

Jip dis Franko wat nes ou Woody lyk vir hulle
gunsteling boeke karakter by die skool.

How'd partner!

Friday, July 24, 2009

Kyk na my nuwe breg fotos




My nuwe breg fotos op GooglePages

Saturday, July 18, 2009

Istanbul - Ethopiese Mark




Ons het 'n paar van hierdie winkeltjies gesien - hulle verkoop meesal ligte en Bubblies.


Istanbul (Vrydag)

Aag vrek, daar is dit ook nou klaar....met so 'n dag wat jy moet lughawe toe kan jy nie veel doen nie. Vir 'n laaste koop terapie sessie deur die Cevahir Mall. Van daar na die lughawe. Ons koop hier ook 'n laaste item of twee - ek het net kans gesien vir 'n pak Lokum - Turkish Delight. Die lughawe is flippin duur - tot 5 maal die gewone pryse. Selfs die Burger King se pryse is dubbels van die in die stad self.

Op Munchen het ek en Dirk gou eg Duitse biere afgesluk - Weisbier en nog iets anders wat ek nie kan onthou nie. Darem teen 2.30 euro vir 500ml bier.

Ek het sommer al my fotos op Picasa gelaai, net voor ons by die hotel vertrek het.

Thursday, July 16, 2009

Istanbul (Donderdag)

Jawel, die laaste dag wat ek regtig behoorlik kon rondloop het baie interessant uitgedraai. Ek en Dirk het na so 25mins die tutorial vaarwel geroep, bloot ook net as gevolg van toevalligheid. Hulle het nie 'n video projektor gou genoeg kon reel nie, dus kon ons vrae vra. Die tutorial is maar eintlik 'n produk advertensie van 'n stukkie sagteware wat maar kompeteer met Matlab. Dit het ook baie beperkings omdat dit gebou is om parsiele differensiaal vergelykings op te los....
Terug na die dag. Na 'n lang besoek aan die Grand Bazaar, heelwat gekibbel oor pryse, is Dirk heelwat armer daar uit, en ek darem nie te erg nie. Met 'n persent of paar is ons na die Sofia. Voor dit moes ons net eers van die gebraaide mielies koop en in die Hippodrome sit en eet. Te lekker, wonder wat die ou Romyne daarvan sou se^....
Die Sofia is anders as al die ander Kerke wat ek nou al in Europa gesien het. Dit is massief, en is ook in die vroeg 500's gebou. Dit het begin as 'n kerk en opgeeindig as 'n moskee. Tans is die 'n World Heritage sit. Die binnekant is rof, maar tog ook mooi afgewerk. Daar is pragtige mosiakwerke van Christelike figure in! Van hier af het ek en Dirk eers Turkse pizza geeet, sulke baie dun pizzas met min maalvleisies op, en goed opgewarm met tjillies en anders plantdiertjies wat mens ampers terugbyt. Ons het maar besluit om gou iets te hap, terwyl ons deur nog 'n kleiner tipe bzaar geloop het. Ek vermoed dit is die Ethiopiese bazaar. Vandaar het ons nog so paar straatjies verken en oor die brug terug na ons hotel kant van Istanbbul geloop.
Ons het besluit om die bult aan te durf na die Galata toring. Teen hierdie tyd het ons al heelwat lire gehoes - die meeste plekke is so 10 of 20 lire, wat mens met 6 maal vir Rande. Maar wat 'n verassing was die toring nie. Istanbul is pragtig van daar bo. Ons het seker 'n goeie uur daar staan en tuur vir die ou, maar interessante stad. Dit is nie 'n afgeronde stad nie, ook nie fyn afgewerk nie, maar met 'n lewe wat na meer as 2000 jaar steeds hard skop. Ek sal beslis wil terugkom, want daar is nog soveel wat ons nie gesien het nie. Mens kry ook 'n goeie begrip van die omvang van 'n stad wat 10m mense huisves.
Maar lekker moeg en pootuit mik ons vir die Galata brug. Die boonste vlak vat die karre en trems, en die onderste vlak huisves tiene van restaurante. Ons het by een vasgehaak, 500ml Efes bier afgesluk, met Calamari en vis. Dit alles met die son wat aan die een kant ondergaan.
Om terug te kom tot by die hotel, moes ons weer op die trem, Funicular en metro. Net gou eers weer 'n baie kort draai geloop by Taksim om roomys teen 5 lire te koop. Turkse roomys is so taai en trek so as mens dit eet, maar is tog lekker. Die ouens wat jou cone bou terg jou want die roomys word met sulke lang dun ysterspaantjies in die cone gestop. Die roomy plak dan half aan die spaan vas en as mens dit wil vat pluk hulle dit weg, swaai dit rond en druk dit teen jou neus..... My ondervinding is die Turke is regtig vriendelik, en baie behulpsaam. Hulle vat toeriste in hul dag-tot-dag doen en late, en lyk nie gepla daardeur nie.
En dan is die Turkse meisies darem glad nie lelik nie, mooi gebou, donker hare en donker oe" - ai nou verlang ek sommer ekstra na Bella....

Wednesday, July 15, 2009

Istanbul (Woensdag)

Het vandag maar al die papers deurgesit, 'n tutorial gedoen, en darem met 'n paar belangrike ouens gesels/kontak gemaak. Het vanaand so bietjie op my eie weer gaan ronddrentel in die straat tussen Taksim en Tunel - die hoeveelheid mense wat daar loop is eintlik skrikwekkend. Mens raak nie daaraan gewoond nie. Ek wou na die fort toe gaan, maar het uiteindelik besluit dat dit dalk nie in die aand gaan oop wees nie.
Ek beplan om more nog 'n tutorial by te woon, en net na dit na die Grand Bazaar te gaan. As daar nog tyd oor is, sal ek na die Sofia gaan, as Dirk reken dis die moeite werd - Hy was Woensdagaand saam met die Fransman soontoe.

Tuesday, July 14, 2009

Istanbul (Dinsdag)

Jawel, daar is my paper (09E-SIW-005) ook darem nou klaar aangebied. Dit het baie goed gegaan, en ek het darem so 3 vrae gekry. Nou is dit net die Gala aandete wat voorle vir die aand.
Ek moet se^ dat Istanbul vol verassings is - ons het gisteraand per bus vanaf Grand Cevahir na Besiktas gery, en daar op 'n boot geklim. Dis alles deel van die gala aandete van die konferensie. Vandaar het dit rustig al langs die kus gevaar in die rigting van die twee imponerende suspensie brue. Waar ek voorheen gedink het Istanbul is nie so mooi nie, wel hier is die prentjie mooi - veral in die laatmiddag son, en dan later in die donker. Die een brug is verlig met duisende liggies, en dan is daar die verskriklike fensie hotelle, almal met sulke opelug restuarante reg teen die water. Party het selfs groot vure in bakke op die kant. Dit is ook duiseligwekkend hoe groot Istanbul regtig is. Volgens Wolfram Alpha het dit 9.7m mense - mens kan dit sien!

My opinie dat Istanbul nie eintlik 'n mooi stad is nie, is nou heeltemal anders nadat ons al langs die bosporus gevaar het. Dit blyk dat ons hotel eintlik in die armer deel van die stad is.....alhoewel die hotel redelik fensie is. Ek het van die mooiste tonele gesien al langs die rivier af. Iets wat werklik besonders is, is die fort, Rumeli Hasari. Dit is baie mooi belig in die aand.
terug na die boot, hulle het vir ons sulke lekker vissies gebraai - elkeen kry 'n hele vissie, met kop en oe en al. Dit smaak sommer vorentoe. Die Turke is baie lief vir tamaties, komkommers, waatlemoen en olywe. Hulle sit dit ook saam met elke ete voor.
Soos gewoonlik is daar 'n paar wat so effens uithaak, maar niks slegs nie. Die kaalkop Kanadees het lekker begin dans, bo-op die boot, wat met liggies versier was. Dis vir my altyd vreemd dat mense wil he^ jy moet dans as daar meesal net 'n klomp mans, hoofsaaklik ingenieurs en wetenskaplikes, is. Die paar vrouens wat daar was, het probeer wegdeins vir die Kanadees en het so nou en dan 'n poging aangewend om te dans. Die effens aangeklamde konferensie sekretaresse het heel paartiedier getrek, en woes begin dans. Dis nou totdat die een Griekse girl vir almal met haar baie stywe wit, deurskynende spanbroek gewys het hoekom die girls van hierdie deel van die wereld bellydans - sy het so iets tussen baie suggestiewe en pensdans gedoen.....kyk al die manne het nader gestaan en lekker gekyk. Sy het nogals guts gehad moet ek byse..
Soos met elke trippie, is daar altyd iets onvergeetliks aan - die vaart op die Bosporus val beslis in die bokant van daardie kategorie - Istanbul is betowerend van die water se kant af.

Monday, July 13, 2009

Istanbul (Maandag)

Wel, ons is nou volstoom aan die gang met die 2009 International Simulation Multiconference, waarvan die 2009 European Simulation Interoperability Workshop 'n deel is. Ek het ook die Fransman, Jean-Pierre raakgeloop - die enigste van die bekendes van vorige EURO-SIWs. Net ou Duncan Miller is ook nog daar. Die keynote van Dr Oren was regtig een van die meer toepaslike openingsaanbiedings wat ek al gesien het. Sy aanslag is baie meer gedraai na die filosofiese kant van M&S, iets wat Jan Roodt sal waardeer. Ek het probeer om sy PPT file te kry, maar hy was haastig oppad na een of ander vergadering. Sal deur sy webblaai by University of Ottawa probeer. Ek en Dirk het gou 'n regte Turkse middagete gaan doen - Bees Doner. Heel lekker, en teen 6.50 TL nie te duur nie. Vanaand het ons die konferensie drankies, en more aan die gala aandete en toer.

Ek het gou so bietjie gaan shop by die Cevahir Mall, nie ver van ons hotel af nie. Het darem iets gekry vir die hele familie se gebruik, en ook iets wat Bella graag sal wil gebruik... Die mall is seker so klein stukkie kleiner as Menlyn, maar nogals indrukwekkend. Dit is een van die medium grootte malls in Istanbul. Nou met ek net die presentjies veilig by die huis kry....

Sunday, July 12, 2009

Istanbul (Sondag)

Wel, ek het amper hierdie blog onder die invloed geskryf....vandag het heel anders en baie interessant uitgedraai. Die plan was om na die Grand Bazaar te gaan - iets soos 50 strate onder dak met 6000 winkels. Wel, daar aangekom nadat ons per metro trein, nuwerwetse trem, en 'n funicular (weet nie die Afrikaans vir 'n trein wat teen 'n baie styl bult met kabels opry nie) gebruik het, het ons gevind dat dit op Sondae gesluit is. Ons het so klein voorsmakie gebry - een straat wat soos 'n Montana Trader's Square snuffelmark lyk. Was so ietwat teleurgesteld, maar toe besluit ons om maar al langs die treinspoor terug te stap. Daar was vcrskeie interssante winkeltjies, maar nie regtig iets wat mens nou opgewonde wou maak nie.

Volgende het ons na die sg. blue mosque begin soek, dit gekry, maar nie kon ingaan nie, want ons het beide kortbroeke aangehad. Mens moet 'n langbroek aanhe^ om by 'n moskee in te gaan. So van buite af geloer. Volgende het ons deur die paleistuine gestap, en ook gepiepie teen seker so R5 in die tuin - mens betaal duur vir regtig onaangename toilette in Istanbul. Maar nou ja, as mens moet gaan, moet jy...

Die een ding wat mens baie opval van Istanbul is die omvang van die plek - alles is groot en wyd hier, en hier is flippin baie mense - die paleistuine is nie klein nie - die wandellaan is baie lank en daar is duisende mense wat rond drentel, kuier, lag, eet, en alles wat jy aan kan dink, doen. Ek het darem lekker na Bella verlang in die tuine - aan die een kant is daar 'n ietwat meer private laan, met sulke hout pergolas waar die jong turke sit en vry - natuurlik alles met klere aan, maar heel warm vir so 'n ou kultuur.

Op soek na die Hippodrome, 'n plekkie waar die Romyne hulself vermaak het in so 230 nC, het ons by die Basilica Cistern ingegaan - dit is asemrowend....die Romyne het dit in 5oo iets nC gebou, met 'n aquaduct wat water van 19km ver vervoer het hierheen. Die hele ding is ondergronds, en beslaan 19,000 vierkante meter - onbeskryflik. Sal later die fotos pos.

Teen hierdie tyd is ons alreeds baie pootuit, maar met 'n Doner broodjie en 'n watertjie agter die rug, het ons die historiese museum besoek - baie goed, met heelwat stukke wat uit 2500 vC dateer. Daar is soveel dat mens naderhand maar baie moeg net aandrentel. Daar is honderde sarkofage, standbeeeld, kolomme, bakke, kruike, ens.

Van hier het ons die brug beloop tussen die Europese en goue horing dele van Istanbul - die honderde vistermanne wat sulke klein vissies vang is baie snaaks. Die hele brug is in twee lae - een daarbo vir die verkeer, en een daaronder vir verskeie restaurante - almal wat mens baie ywerig probeer oorreed om aan te sit.

Ons het maar voortgedruk, oor die brug gestap, en by 'n baie interessante boot restuarant geeet. Mens sit op sulke klein stoeltjies en tafeltjies, terwyl die kombuis van die restuarant op 'n boot is. Die 4 manne in die kombuis bak net vissies wat hulle dan op 'n broodjie met tamatie en uie sit. Die boot hel by tye seker teen meer as 30 grade oor na die kante agv die golwe op die water, maar die manne bly staan asof die boot nie beweeg nie. Dis vrek besig, vrek raserig, en die vissies op brood kos maar 4 TL. Nie duur nie, maar mens voel so Turks as kan kom, as jy dit doen, omdat dit so wemel van Turke dat jou kop naderhand draai....

Van die besige boot kombuis, en 'n langerige stap terug by 'n baie informele plekkie eers weer appeltee gedrink. Van hier moes ons weer per funicular terug na Taksim square, waar ons weer so klein stukkie gewandel het in die laan wat Taksim en Tunel verbind. Ons was nou doodmoeg, en het eers bier gaan soek. Teen 4 lira per 500ml en 5 lire teen 700ml, het ek so 1.2L en Dirk so 1.4L Efes bier gedrink - die local Turkse Pilsner. Baie lekker ligte bier. Met 'n Turkse live band, rock/blues, in die agterkant van die Bar/Cafe, het ons behaaglik geteug aan die senior biere. 'n Perfekte afsluiting vir seker 20km se stap deur die stad. Met die laaste treinseksie terug na Sisly square, het ons met baie selfvetroue die pad die keer terug gestap hotel toe. Soos ek vir Dirk se^, ons het hierdie deel van Istanbul vanaand gewen, ons verstaan nou.....Teen die tyd wat ons by die hotel aangekom het, het my kop nog lekker gedraai van die 1.2L bier. Maar na 'n lekker lang telefoon gesprekkie met Bella, was my koppie weer reg, en kon ek hierdie heel nugter tik.

Ai, vandag was een van daardie dae in 'n ander wereld, wat mens net weer besef hoe klein jou wereldtjie kan wees. Dit was een van die lekkerste dae wat ek nog in 'n ander stad beleef het, net jammer met my familie so ver.....

Istanbul is nie 'n mooi stad nie, maar een van die meer interessante kulture. Die mense is vriendelik, help mens maklik, is rustig en ontspanne, en dit is net lekker om hier te wees - ten spyte van die taal verskille, voel mens tog welkom.


Saturday, July 11, 2009

Istanbul (Saterdag)

Ek en ou Dirk, 'n kollega, het so net na 12h00 in ons hotel aangekom na 'n vlug via Munich. Moet se^ dit is die vinnigste visum wat ek nog ooit gekry het....mens koop dit sommer op die lughawe (Ataturk) teen 10 Euros en dit het my presies 17.8 sekondes geneem....nerens het ons gewag nie, behalwe so klein bietjie vir ons tasse. Die hotel het ons laat oppik, Grand Cevahir. Ons woon die Summer European Computer Simulation konferensies by - eindelik net die SISO een, oftewel EURO-SIW 2009, waar ons beide papers moet aanbied.

Nadat ons gaan stort het, en so bietjie opgevars het, het ons besluit om 'n draai te stap. Die eerste poging was redelik goed, en ons het by 'n vars produkte mark verbygestap, waarby ek dadelik 'n halwe kilo vars kersies moes koop. Ons het toe maar die aftog moes blaas, omdat ons ons self vasgeloop het in doodloop straatjies, groot areas waar hulle bou ens. Na so bietjie naspeur werk op google maps, het ons toe op Taksim square besluit vir aandete. Na seker so 5km se stap het ons weer in snelwee ens vasgeloop en toe maar uiteindelik moes toegee deur 'n taksie te deel teen 20 lire.....By Taksim aangekom het ons so bietjie rondgeloop, en toe maar op 'n eetplekkie besluit. Die waiter daar was verskriklik vriendelik, sodat ons selfs 'n foto saam met hom geneem het. Hulle het ook vir ons gratis Turkse tee aangebied na ons maal, wat regtig baie lekker is. Mens drink dit uit sulke baie klein glas bekertjies, swart en baie soet. Hul tee proe egter nie soos Vyf Rose nie, baie lekkerder. Ek sal maar seker vir Hillie so pakkie moet koop....

Iets wat nogals onverwagd was, is om soveel shackerige huisies te sien in dele van die stad. Dit is werklik klein bouvalletjies, wat selfs slegter gebou lyk as die informele behuising wat ons in Suid Afrika aan gewoond is. Die plekke lyk asof dit gaan wegspoel as dit net 1mm gaan reen....

Daarna was ons oppad terug, maar besluit toe om nog so draai te stap. Daar kom ons toe op die wandellaan van seker 3km af, tussen Taksim en Tunel squares. Daar is seker 250 000 mense wat rondloop - dit is ongelooflik, ek het nog nooit so baie winkeltjies en mense saam op een plek gesien nie. Daar is duisende klein eetplekkies, party met live music, so dit 'n swetterjoel van mense en 'n kakofonie van klanke en geraas. Na dit, moes ons eenvoudig net op die trem van Tunel terug na Taksim ry. Hier ontdek ons toe ook die baie gerieflike metro trein stelsel van Istanbul, en ry met dit terug na 'n stasie wat klink asof dit naby ons hotel is. Ons hotel is 'n redelike landmerk in die omgewing, maar ek was nog nooit so verdwaal in my lewe nie....jy het nie 'n kooking clue hoe om te loop nie, en die stadskaart het nie daai stukkie van die detail op nie...ons klop toe maar by 'n plekkie aan, wat lyk soos die kantore van die busbestuurders. Die een roep ons nader, en vat pad soos 'n vlakhaas oor besige strate....hy neem toe uiteindelik stelling in, in sy bus, en beduie ek en Dirk moet opklim....ons wil net geldjies begin uithaal, waarop hy beduie, nee los die geldjies sit nie. Al die ander Turke wat opklim, betaal wetsgehoorsaam....Die bus het 'n end gery - ook seker verder was wat ons die tyd van die aand wou stap. By een van die haltes beduie die bestuurder ons moet hier af. Ons klim toe maar af, effens steeds verdwaald. Met die opkyk, kyk ons reg in die hotel vas. Ek se^ vir hou Dirk, ek is bly om die hotel te sien, ek het al gesien hoe ons op 'n park bankie slaap vanaand.

Moet se^ ten spyte van al die winkels is dit nogals moeilik om te shop. More wil ons die Grand Bazaar gaan besoek, en sal weer met treine ens moet ry. Hoop ons verdwaal dan minder...