Sunday, July 12, 2009

Istanbul (Sondag)

Wel, ek het amper hierdie blog onder die invloed geskryf....vandag het heel anders en baie interessant uitgedraai. Die plan was om na die Grand Bazaar te gaan - iets soos 50 strate onder dak met 6000 winkels. Wel, daar aangekom nadat ons per metro trein, nuwerwetse trem, en 'n funicular (weet nie die Afrikaans vir 'n trein wat teen 'n baie styl bult met kabels opry nie) gebruik het, het ons gevind dat dit op Sondae gesluit is. Ons het so klein voorsmakie gebry - een straat wat soos 'n Montana Trader's Square snuffelmark lyk. Was so ietwat teleurgesteld, maar toe besluit ons om maar al langs die treinspoor terug te stap. Daar was vcrskeie interssante winkeltjies, maar nie regtig iets wat mens nou opgewonde wou maak nie.

Volgende het ons na die sg. blue mosque begin soek, dit gekry, maar nie kon ingaan nie, want ons het beide kortbroeke aangehad. Mens moet 'n langbroek aanhe^ om by 'n moskee in te gaan. So van buite af geloer. Volgende het ons deur die paleistuine gestap, en ook gepiepie teen seker so R5 in die tuin - mens betaal duur vir regtig onaangename toilette in Istanbul. Maar nou ja, as mens moet gaan, moet jy...

Die een ding wat mens baie opval van Istanbul is die omvang van die plek - alles is groot en wyd hier, en hier is flippin baie mense - die paleistuine is nie klein nie - die wandellaan is baie lank en daar is duisende mense wat rond drentel, kuier, lag, eet, en alles wat jy aan kan dink, doen. Ek het darem lekker na Bella verlang in die tuine - aan die een kant is daar 'n ietwat meer private laan, met sulke hout pergolas waar die jong turke sit en vry - natuurlik alles met klere aan, maar heel warm vir so 'n ou kultuur.

Op soek na die Hippodrome, 'n plekkie waar die Romyne hulself vermaak het in so 230 nC, het ons by die Basilica Cistern ingegaan - dit is asemrowend....die Romyne het dit in 5oo iets nC gebou, met 'n aquaduct wat water van 19km ver vervoer het hierheen. Die hele ding is ondergronds, en beslaan 19,000 vierkante meter - onbeskryflik. Sal later die fotos pos.

Teen hierdie tyd is ons alreeds baie pootuit, maar met 'n Doner broodjie en 'n watertjie agter die rug, het ons die historiese museum besoek - baie goed, met heelwat stukke wat uit 2500 vC dateer. Daar is soveel dat mens naderhand maar baie moeg net aandrentel. Daar is honderde sarkofage, standbeeeld, kolomme, bakke, kruike, ens.

Van hier het ons die brug beloop tussen die Europese en goue horing dele van Istanbul - die honderde vistermanne wat sulke klein vissies vang is baie snaaks. Die hele brug is in twee lae - een daarbo vir die verkeer, en een daaronder vir verskeie restaurante - almal wat mens baie ywerig probeer oorreed om aan te sit.

Ons het maar voortgedruk, oor die brug gestap, en by 'n baie interessante boot restuarant geeet. Mens sit op sulke klein stoeltjies en tafeltjies, terwyl die kombuis van die restuarant op 'n boot is. Die 4 manne in die kombuis bak net vissies wat hulle dan op 'n broodjie met tamatie en uie sit. Die boot hel by tye seker teen meer as 30 grade oor na die kante agv die golwe op die water, maar die manne bly staan asof die boot nie beweeg nie. Dis vrek besig, vrek raserig, en die vissies op brood kos maar 4 TL. Nie duur nie, maar mens voel so Turks as kan kom, as jy dit doen, omdat dit so wemel van Turke dat jou kop naderhand draai....

Van die besige boot kombuis, en 'n langerige stap terug by 'n baie informele plekkie eers weer appeltee gedrink. Van hier moes ons weer per funicular terug na Taksim square, waar ons weer so klein stukkie gewandel het in die laan wat Taksim en Tunel verbind. Ons was nou doodmoeg, en het eers bier gaan soek. Teen 4 lira per 500ml en 5 lire teen 700ml, het ek so 1.2L en Dirk so 1.4L Efes bier gedrink - die local Turkse Pilsner. Baie lekker ligte bier. Met 'n Turkse live band, rock/blues, in die agterkant van die Bar/Cafe, het ons behaaglik geteug aan die senior biere. 'n Perfekte afsluiting vir seker 20km se stap deur die stad. Met die laaste treinseksie terug na Sisly square, het ons met baie selfvetroue die pad die keer terug gestap hotel toe. Soos ek vir Dirk se^, ons het hierdie deel van Istanbul vanaand gewen, ons verstaan nou.....Teen die tyd wat ons by die hotel aangekom het, het my kop nog lekker gedraai van die 1.2L bier. Maar na 'n lekker lang telefoon gesprekkie met Bella, was my koppie weer reg, en kon ek hierdie heel nugter tik.

Ai, vandag was een van daardie dae in 'n ander wereld, wat mens net weer besef hoe klein jou wereldtjie kan wees. Dit was een van die lekkerste dae wat ek nog in 'n ander stad beleef het, net jammer met my familie so ver.....

Istanbul is nie 'n mooi stad nie, maar een van die meer interessante kulture. Die mense is vriendelik, help mens maklik, is rustig en ontspanne, en dit is net lekker om hier te wees - ten spyte van die taal verskille, voel mens tog welkom.


No comments:

Post a Comment